1 Chronicles 11
1 Die hele Israel het by Dawid in Hebron byeengekom en gesê: “Kyk, ons is u bloedfamilie.
2 Reeds vroeër, selfs toe Saul koning was, was u die een wat Israel se veldtogte gelei het. Die Here u God het vir u gesê, ‘Jy sal 'n herder wees vir my volk Israel, ja, jy sal 'n leier wees oor my volk Israel.’ ”
3 Toe al die oudstes van Israel na die koning in Hebron gekom het, het Dawid met hulle in Hebron 'n verbond gesluit voor die Here; en hulle het Dawid as koning gesalf oor Israel, ooreenkomstig die woord van die Here, by monde van Samuel.
4 Dawid en die hele Israel het toe na Jerusalem gegaan, dit is Jebus, waar die Jebusiete die inwoners van die gebied was.
5 Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Jy sal nie hier inkom nie!” En tog het Dawid die Sionsvesting, dit is die Stad van Dawid, ingeneem.
6 Dawid het gesê: “Wie ook al eerste 'n Jebusiet neervel, word hoof en •aanvoerder!” Joab, seun van Seruja, het eerste opgegaan, en hy het hoof geword.
7 Dawid het in die vesting gaan woon; daarom het hulle dit die Stad van Dawid genoem.
8 Dawid het die stad rondom opgebou, van die terrasse af en reg rondom, terwyl Joab die res van die stad herstel het.
9 Dawid het al hoe sterker geword. Die Here, Heerser oor alle magte, was met hom.
10 Hier volg die hoofde van Dawid se helde wat hom tydens sy koningskap kragtig bygestaan het, deurdat hulle, saam met die hele Israel, hom koning gemaak het oor Israel ooreenkomstig die woord van die Here.
11 Dit is dan die getal helde wat Dawid gehad het: Jasobam, seun van Gakmoni, was hoof van die dertig. Hy het in een veldtog sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai.
12 Ná hom was daar Eleasar, seun van Dodo, uit Agoag. Hy was een van die drie helde.
13 Hy was by Dawid in Pas-Dammim toe die Filistyne daar vir die geveg byeen was. Daar was 'n stuk land vol gars, en toe die manskappe voor die Filistyne uit vlug,
14 het hulle stelling ingeneem in die middel van die land en dit teruggevat. Hulle het die Filistyne verslaan, en die Here het 'n groot oorwinning bewerk.
15 'n Drietal van die dertig hoofde het afgegaan na Dawid by die rots, by die grot van Adullam. Die kamp van die Filistyne was opgeslaan in die vallei van Refaïm.
16 Dawid was op daardie stadium in die bergvesting, en daar was 'n wagpos van die Filistyne in Betlehem.
17 Dawid was vol heimwee, en het gesê: “As iemand tog net vir my water kon laat drink uit die opgaarput by Betlehem wat by die dorpspoort is!”
18 Die drie het toe deur die kamp van die Filistyne gebreek en water geskep uit die opgaarput by die dorpspoort van Betlehem. Hulle het dit gedra en vir Dawid gebring. Maar Dawid wou dit nie drink nie, en het dit vir die Here uitgegiet
19 en gesê: “Mag my God my daarvan weerhou dat ek dit ooit sou doen! Sou ek die bloed van hierdie manne drink wat hulle lewens gewaag het? Ja, deur hulle lewens te waag, het hulle dit gebring.” Hy wou dit nie drink nie. Dit is wat dié drie helde gedoen het.
20 Abisai, Joab se broer, hy was die hoof van die drietal. Hy het sy vegspies oor driehonderd gesneuweldes geswaai. Hy het vir hom naam gemaak onder die drie.
21 By die drietal het hy dubbele eer ontvang, en hy was vir hulle 'n aanvoerder; maar hy was nie die gelyke van die drie nie.
22 Benaja, seun van Jojada, was 'n onverskrokke man uit Kabseël wat groot dade gedoen het. Hy is die een wat die twee manne van Moab, manne met leeuemoed, verslaan het. Dit is hy wat op 'n dag toe dit gesneeu het, binne-in 'n opgaarput afgegaan en 'n leeu neergevel het.
23 Dit is ook hy wat 'n Egiptenaar, 'n man wat vyf el lank was, verslaan het. Die Egiptenaar het 'n vegspies soos die dwarsbalk van 'n weefraam in sy hand gehad. Benaja het met 'n stok na hom afgegaan. Hy het die vegspies uit die Egiptenaar se hand geruk en hom met sy eie vegspies doodgemaak.
24 Dit was sulke dade wat Benaja, seun van Jojada, gedoen het, en hy het naam gemaak onder die drie helde.
25 Hy was ongetwyfeld meer geëerd as die dertig, maar hy was nie die gelyke van die drie nie. Dawid het hom aangestel oor sy lyfwag.
26 Die dapper krygers was: Asael, broer van Joab; Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem;
27 Sammot uit Haror; Geles uit Pelon;
28 Ira, seun van Ikkes, uit Tekoa; Abiëser uit Anatot;
29 Sibbegai uit Gusa; Ilai uit Agoag;
30 Marai uit Netofa; Geled, seun van Baäna, uit Netofa;
31 Ittai, seun van Ribai, uit Gibea van die Benjaminiete; Benaja uit Piraton;
32 Gurai uit Nagale-Gaäs; Abiël uit Bet-Araba;
33 Asmawet uit Bagarum; Eljagba uit Saälbon;
34 die seuns van Hasem uit Gison; Jonatan, seun van Sage, uit Harar;
35 Agiam, seun van Sagar, uit Harar; Elifal, seun van Ur;
36 Gefer uit Megera; Agija uit Pelon;
37 Gesro uit Karmel; Naärai, seun van Esbai;
38 Joël die broer van Natan; Mibgar, seun van Hagri;
39 Selek die Ammoniet; Nagrai uit Beërot, die wapendraer van Joab, seun van Seruja;
40 Ira uit Jeter; Gareb uit Jeter;
41 Urija die Hetiet; Sabad, seun van Aglai;
42 Adina, seun van Sisa, 'n Rubeniet, hoof van die Rubeniete, met dertig by hom;
43 Ganan, seun van Maäga; Josafat uit Meten;
44 Ussia uit Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam, uit Aroër;
45 Jediael, seun van Simri, en sy broer Joga uit Tis;
46 Eliël uit Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma die Moabiet;
47 Eliël, Obed en Jaäsiël uit Soba.